Wednesday, 13 March 2013

Die ware wingerdstok

Ons het ons kwartaal begin deur saam Johannes 2:1-11 te lees. Dit het vertel van Jesus se eerste wonderwerk – waar Hy water in wyn verander het. Ons het gehoor dat wyn dien as ‘n simbool van die goeie lewe. ‘n Kwaliteit lewe, ‘n lewe van vreugde, ‘n lewe wat ook God se goedkeuring wegdra. Dis nie net Johannes wat graag wyn, druiwe en wingerde as beeld gebruik nie. Die Ou Testament is vol sulke beelde. In die Ou Testament is daar egter ‘n opvallende patroon wanneer daar oor wyn of wingerde gepraat word. Johannes se optimisme oor wingerde en wyn, vind ons nie in die Ou Testament nie.


Lees Jesaja 5:1-7.

Hoe het God oorspronklik met Sy wingerd gewerk?  Waarom vervies die Here Hom vir die wingerd?

Sou jy sê dat Israel ‘n kwaliteit wingerd was (die WARE wingerd dalk)?  Hoekom/hoekom nie?

Hoe beskryf Jeremia 2:21 die volk Israel?

Lees nou Esegiël 15.  

Sou jy sê God straf die wingerd?  Motiveer jou antwoord uit die teks.  Wat sê die teks oor wingerdhout?

Die ware wingerdstok

1 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
Lees die gedeelte 3 keer deur.  Neem nou tyd vir stilgebed.  Dink gewoon aan wat jy gelees het.  Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan?  Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord.  Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê.  (Kyk of jy 5min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.  Stel sommer jou wekker op jou selfoon,  5min in stilte voel lank).

Hoe beskryf hierdie verse die verhouding tussen Jesus en Sy Vader?  Hoe beskryf hierdie verse Jesus se verhouding met ons?



Wat dink jy word daarmee bedoel dat God ons snoei?  Hoe snoei God ons?

Wat beteken dit om in Jesus te ‘bly’?

Hierdie teks bevat ‘n pragtige beeld.  Dis egter ‘n beeld wat in die Ou Testament dikwels gekoppel is aan droefheid en straf.  ‘n Wingerd het konstante instandhouding geverg.  Daar moes ook heelwat infrastruktuur opgerig word indien mens met druiwe wou boer.  As mens nie hard gewerk het en gereelde instandhouding gedoen het nie, het die wingerd sommer gou agteruit gegaan.  Miskien sou dit genoeg wees om net te sê dat die wingerd vervalle raak as God dit nie meer snoei nie...

Hoekom dink jy word daar in vers 6 gepraat oor lote wat in die vuur gegooi word?

Sny God dan party mense doelbewus af en gooi hulle in die vuur (die hel)?

Lees weer vers 8.  Kan hierdie vers jou dalk ‘n antwoord gee op die bogenoemde vrae?  Wat is God se wil vir jou?




Wednesday, 6 March 2013

Die ware pad van lewe




Hierdie gedeelte in Johannes vind plaas nadat Jesus die dissipels se voete gewas het en voor die instelling van die nagmaal.  Jesus praat toe daarvan dat een van hulle hom sal verraai.  Hy wys vir Judas uit deur vir hom brood te gee wat in sous gedoop is.  Hy sê toe vir Judas dat wat hy wil doen, hy gou moes doen en met daardie woorde is Judas uit in die nag...  Weg van die lig, van Jesus af...

Hierdie gebeurtenis het die dissipels deurmekaar gemaak en hulle kon nie verstaan wat nou aangaan nie.  Wat Jesus egter daarna aankondig het, was net nog meer verwarrend en ontstellend. 

Lees Johannes 13:31-38 rustig deur.

31 Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32 En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.

 33 My kinders, Ek is nog net 'n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34 Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

36 Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37 Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38 “Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Wat bedoel Jesus as hy praat van die verheerliking van die Seun van die mens?  In die lig van die hele Johannes evangelie, waarvan dink jy praat Hy?
(Jesus verheerlik God deur gehoorsaam te wees in die aflê van Sy lewe.  God verheelik Hom deur die opstanding.)

Hoe dink jy sou die dissipels op daardie stadium Sy woorde verstaan? 

Hoe dink jy moes die dissipels voel toe Hy sê hy verlaat hulle? (Let op Petrus se reaksie.) 

Jesus het baie dieselfde woorde aan die Fariseërs gesê.  Tog is daar 'n groot verskil:

JOHANNES 8:21

Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”

Hoe verskil dit met wat hy vir die dissipels sê?

Hoewel Sy dissipels hom nie meer met hulle oë gaan kan sien nie, sê Jesus nie dat hulle in sonde sal sterf nie, hy los hulle met 'n gebod...

In die lig van die gebod, sou dit vir hulle moontlik wees om mekaar lief te hê op daardie manier as hulle nie vir Jesus geken het en Sy liefde ontvang het nie?  (Lees die volgende verse om jou te help verstaan.)

JOHANNES 13:6-9

6 Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”
    7 En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.” 
8 Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
  Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
    9 Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

Hoe sluit Petrus se voornemens om sy lewe vir Jesus af te lê by die voete was insident aan?  Kan Petrus sy lewe vir Jesus aflê?  Of het hy dinge dalk verkeerdom?

Hoe sou Jesus se woorde oor Petrus wat Hom sou verloën die dissipels laat voel? (Onthou, hulle ken hom as die een wat Jesus die liefste gehad het...)


In die lig van hierdie donker gebeure en gesprek, en die dissipels se verwarring en ontsteltenis, sê Jesus die volgende:


Johannes 14 : 1-14

1 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3 En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

Soos die kibboetse wat vandag in Israel is, was die Jode se huise in daardie tyd ook groot.  Seuns het by hulle pa's aangebly en die besigheid of plaas help bedryf.  As hulle trou sou hulle 'n kamer of wooneenheid aan hulle Vader se huis aanbou en gereedmaak vir hom en sy vroutjie.  Dit was die aanloop tot die troue, na die verlowing moes die jong man hard werk om plek gereed te maak, en die meisie moes wag.  Sy het nie geweet waar die bruidegom se vader se huis was nie.  Die bruidegom sou haar kom haal as dit gereed was en hy sou haar soontoe neem.
As gevolg daarvan het die huise deur die generasies gegroei tot uitgebreide huise met baie kamers. 

In die lig daarvan, op hoe 'n manier stel Jesus die dissipels gerus met sy woorde? 

Bestudeer die volgende gedeelte in die lig van hierdie beeld van die bruid en die bruidegom.  Lees dit biddend deur en doen die weeklikse oefening om daarmee stil te word.

5 Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6 Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7 As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8 Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11 Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

(Die laaste gedeelte veroorsaak soms verwarring oor wonderwerke.  Jesus noem egter nie die wonderwerke nie, maar die dinge wat Hy doen.  Hy sê gereeld dat omdat Hy die Vader ken, doen hy net wat die Vader vir Hom gesê het.  In die lig daarvan was die grootste ding wat hy gedoen het om sy lewe af te lê en Hom aan die kruis te laat verneder...  Daarna het God Hom verheerlik omdat Hy God verheerlik het.   Dit gaan dus nie daaroor dat gelowiges groot wonders moet doen nie, maar dat hulle ook God se wil sal doen en ken, deur in 'n verhouding met Jesus te leef.  Jesus sê ook dat wat ons ookal in Sy naam vra, sal Hy doen.  Dink egter aan Sy verhouding met die Vader.  Wat het Hy in die naam van Sy Vader gevra?  Dinge wat die Vader verheerlik.  Dit gaan nie oor die vervulling van selfsugtige behoeftes nie.  Die punt is eerder dat ons sekere dinge vra omdat ons Hom ken.)

Tuesday, 26 February 2013

Opstanding en Lewe


Opwarming:


Lees Spreuke 8 deur.  Ja, sommer die hele een!  Vat jou tyd.  Stop na elke sin en dink oor wat jy gelees het.
Hierdie hoofstuk van Spreuke is nogal belangrik vir enige een wat ook die Johannes Evangelie wil verstaan.  Hoe dink jy help hierdie hoofstuk jou daarmee?  Oor wie praat hierdie hoofstuk?  (Daar is meer as een regte antwoord).
Staan so bietjie stil by Spreuke 8:35-36.  Lees die vers ‘n paar keer deur.  Wat hoor jy? 
Hou sommer ‘n boekmerk by Spreuke 8, ons gaan dit weer lees.

Hierdie week:


Ons Skrifgedeelte vir die week handel oor die dood en opstanding van Lasarus.  Ons lees in die eerste gedeelte van Johannes 11 dat Jesus lief was vir Lasarus, die broer van Marta en Maria.  Hy het egter nie dadelik reageer toe hy hoor van Lasarus se siekte nie.  Jesus gesels dan met Sy dissipels oor die dag en die nag, die lig en die duisternis.  Wat kan jy hieroor onthou uit Johannes 8 en 9?

Daar ontstaan dan weer ‘n misverstand tussen Jesus en Sy dissipels.  Jesus noem dat Lasarus slaap – Hy gebruik die term ‘slaap’ as ‘n sagte manier (eufimisme) om oor Lasarus se dood te praat.  Die dissipels neem dit letterlik op, maar praat in die proses die waarheid (sonder dat hulle dit weet) deur te sê dat Lasarus sal gesond word.  Jesus en Sy dissipels gaan dan (onder groot protes van Tomas, wat meen dis selfmoord om terug te gaan na Jerusalem se omgewing) na Lasarus toe.

Skriflesing:


Joh 11:17-44
Jesus by Marta en Maria
17 Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.
18 Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19 en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.
20 Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22 Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”
23 Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”
24 Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”
25 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
27 “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
28 Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”
29 Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30 Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31 Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32 Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”
Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan
33 Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34 Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”
Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”
35 Jesus het gehuil. 36 Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”
37 Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”
38 Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. 39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”
Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”
40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”
41 Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42 Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”
43 Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!”
44 Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Onthou ons gewone oefening:
Lees die gedeelte 3 keer deur.  Neem nou tyd vir stilgebed.  Dink gewoon aan wat jy gelees het.  Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan?  Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord.  Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê.  (Kyk of jy die keer 5min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.  Stel sommer jou wekker op jou selfoon,  5min in stilte voel lank).

Wat lees jy raak oor Marta se geloof in verse 20-27.  Is haar antwoord in vers 24 reg of verkeerd?  Verskil Jesus van haar in verse 25-26 of wat presies bedoel Jesus?
Lees weer vers 33-39.  Hoekom dink jy is Jesus hartseer?  Hoekom dink die Jode is Jesus hartseer? 

Dis opvallend dat Marta juis aan haar suster moet fluister dat Jesus daar is.  Dit is natuurlik omdat Jesus se eie lewe in gevaar was, die Jode wou Hom doodmaak.  Jesus se eie hartseer hou natuurlik verband met Lasarus se dood.  Daar is egter heelwat elemente van hierdie verhaal wat herinner aan Jesus se eie dood wat nou sommer om die draai was.  Hierdie is eintlik ‘n baie spannende verhaal:  Die Jode kan enige oomblik vir Jesus gryp!  Vers 33 vertel daarom eintlik ook dat Jesus gefrustreerd en gespanne was.  Hy het waarskynlik nie net goeie gevoelens teenoor die Jode gehad wat nou so huil oor Lasarus nie.  Hy het geweet wat hulle met Hom gaan doen. 

Lees Joh. 5:25, 28 en 29.  Wat sou jy sê is in Joh. 11 aan die gebeur?

Saamvat




Lees Joh. 12:13, 18:40, 19:6 en 15.  Die woord wat in al hierdie verse gebruik word vir ‘hard uitroep/skree’ is dieselfde woord in die ou Grieks.  Lees nou Spreuke 8:8.  Hoe verskil die woorde wat mense uitroep van die woorde uit Jesus se mond?  

Tuesday, 19 February 2013

Hy is die Goeie Herder


Lees eers Psalm 23 rustig deur en bid dit saam in jou eie woorde.

Herders in die antieke midde-ooste (Bybelse tyd en wêreld) moes harde omstandighede trotseer om na die skape om te sien.  ‘n Herder het die verantwoordelikheid gehad om vir die skape te sorg en seker te maak dat hulle goeie wyding kry.  Dit was egter ‘n veeleisende taak, omdat die wêreld so onherbergsaam was.  Daar was baie gevare soos roofdiere, diewe en droogtes wat die taak moeilik gemaak het.  Herders was bekend daarvoor dat hulle baie moes opoffer ter wille van die skape, hulle moes self die veld en al die gevare daarin aanvat om hulle skape veilig te hou.

Aan die een kant het ‘n herder dus seggenskap en gesag oor die skape gehad.  Die skape het sy stem geken en hom gevolg en na hom geluister.  Hulle was gehoorsaam aan die herder.  Aan die ander kant moes die herder eintlik sy lewe aan die skape toewy en baie opoffer ter wille van hulle veiligheid.  Die herder het self ook ‘n verantwoordelikheid teenoor gehad.


Hierdie prent beeld ‘n herder van die Bybelse tyd uit.  Wat sê dit oor die herder?


Daar was ‘n tyd in Israel se geskiedenis toe hulle leiers (Konings en priesters) nie meer regeer het volgens God se wil nie.  Hulle het al die voordele van leierskap geniet, soos om gesag te hê en om ryk te word ensovoorts, maar hulle het nie werklik vir hulle mense gesorg nie.  Hulle het toegelaat dat die mense mekaar uitbuit en dat hulle afgode begin dien en steel en moor en maak soos hulle wil.  Trouens, die konings het self hulle mense bedrieg deur korrupsie en deur nie te sorg vir die wat swaarkry nie.  Hulle het nie gesorg dat reg geskied sodat die mense veilig kon wees nie. 
Daarom het die profeet Esegiël die volgende boodskap gebring:
(Let op na hoe hy die metafoor van ‘n herder inspan om sy punt deur te voer).

Lees Esegiël 34 : 1-16
Wat sê hierdie gedeelte oor die manier waarop God regeer?

Nadat Jesus die blinde man in hoofstuk 9 genees het, het die Fariseërs hom daaroor probeer aanvat.  Hulle het hom onder andere aangekla oor hy dit op die Sabbat gedoen het.  Die Fariseërs was tot ‘n groot mate soos die herders vir die Israeliete.  Hulle was die godsdienstige leiers en het ook seggenskap gehad oor hoe die mense die Wet moes uitvoer.  Daarom was hulle baie vinnig om iemand wat op die Sabbat werk aan te spreek.  Hulle het ook die offers en feeste by die Tempel beheer.  (Asook die geld wat daarmee saamgaan).

Kyk wat sê Jesus vir die Fariseërs:

Johannes 10 : 1-21
Die goeie herder
1 “Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n rower. 2 Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3 vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4 Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
6 Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
7 Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12 'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13 Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
14 “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My,15 net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. 16 Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.
17 “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. 18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
19 Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde. 20 Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?”
21 Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van 'n besetene nie. 'n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”

Wanneer Jesus sê Hy is die “ingang vir die skape”, beteken dit ook dat Hy die Herder is.  Hy is beide, want soos die prent vantevore gewys het, het ‘n Herder sy eie liggaam gebruik om die hek van die kraal te vorm.  Wat het Jesus se ‘herderskap’ met Sy kruisiging en opstanding te doen?

Die gedeelte dui op ‘n spesiale wedersydse verhouding tussen die Herder en Sy kudde.  Wat word daaroor gesê en wat dink jy vertel dit oor ons verhouding met Jesus?

Volgens Jesus lyk daardie verhouding soos dié tussen Jesus en Sy Vader.  Jesus doen wat die Vader van Hom verlang en luister na Sy stem.  Die Vader het Jesus lief en gee aan Hom nuwe lewe.
Die ‘ander’ kudde waarvan Jesus praat was die nie-Jode wat later deur Sy naam tot bekering sou kom.  Die woord wat aan die einde van vers 16 vir “kudde” gebruik word verwys egter eerder na die kraal self (en die inhoud daarvan).  ‘n Kudde word veilig gehou in die kraal.

Wie kan almal in hierdie kraal inkom?  Hoe kom ‘n mens in hierdie kraal?

Wednesday, 13 February 2013

Lig vir die wêreld


Verlede week:


Ons het verlede Sondag gesels oor die brood wat lewe gee – dit is Jesus self.  Die trefkrag van die beeld lê juis daarin opgesluit dat baie mense hulle net beywer vir die brood wat NOU in hulle behoeftes vervul.  Hulle leef asof die realiteit van vandag se behoeftes al is wat bestaan.  Jesus gebruik daardie selfde gevoel van hongerpyne om te praat oor ‘n ander realiteit.  Dit waarvoor ons honger is, waarna ons smag, is nie maar net fisiese brood nie.  Nog meer as wat dit nodig is dat ons sorg vir ons fisiese liggaam deur dit te voed, is dit nodig dat ons eet van die Brood wat lewe gee.  Ons bestaan is afhanklik daarvan dat ons vir Jesus self ken en in Hom glo.

Skriflesing:


Lig vir die wêreld

12 Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
13 Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.”
14 Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. 15 Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16 En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17 In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. 18 Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.”

Lees die gedeelte 3 keer deur.  Neem nou tyd vir stilgebed.  Dink gewoon aan wat jy gelees het.  Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan?  Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord.  Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê.  (Kyk of jy die keer 4min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.  Stel sommer jou wekker op jou selfoon,  4min in stilte voel lank).

Hierdie week:


Die beeld van ‘lig vir die wêreld’ word gebruik om twee verhale te verklaar.  Die verhale verklaar eintlik ook vir ons die beeld.  Die eerste verhaal lees ons in Joh. 7:53-8:11.  Dit is die verhaal van die vrou wat op owerspel betrap is.



Lees Joh. 7:53-8:11 deur.  Die situasie waarin die vrou haarself bevind is nogal onregverdig.  In watter opsigte sou jy sê is dit onregverdig teenoor die vrou? 
Lees Joh. 18:31 om te sien hoe die Romeinse wet van toepassing was in hierdie situasie.  Lees dan ook Lev. 20:10.  Hoe sou jy sê is die Skrifgeleerdes en Fariseërs onregverdig teenoor Jesus?

Sou jy sê dat die Skrifgeleerdes en Fariseërs met goeie bedoelings die wet wou toepas?  Wat was eintlik op hulle agenda?

Jesus tree eintlik baie vreemd op in hierdie situasie.  Dit is seker verstaanbaar.  Die situasie is so bietjie van ‘n ‘catch 22’.  Maak nie saak wat Jesus doen nie, Hy het moeilikheid (óf by die Jode, óf by die Romeine).  Mens se indruk is dat Jesus die hele kwessie van die wet (Romeins of Joods) vermy en op ‘n dieper vlak van menswees die hele situasie aanspreek.  Moontlik het Hy in die sand iets geskryf wat aan die mense verduidelik het hoekom hulle nie die vrou kan stenig nie. 

Wat dink jy het Hy in die sand geskryf?
Hoe ‘oordeel’ Jesus oor die vrou se situasie?  Wat is die resultaat van Sy oordeel?

Die tweede verhaal lees ons in Joh. 9.  Die verhaal is nogal lank, so ons gaan ter wille van tyd hierdie week net fokus op die eerste gedeelte.

Lees Joh. 9:1-12 deur.  Wie dink jy is te blameer vir die man se blindheid? 
Wat bedoel Jesus as Hy sê “die nag kom”?  (Wat sê Joh. 1:5 hieroor?)

Jesus se genesing van die blinde man herinner nogal aan die skeppingsverhaal in Gen.2:6-8.  Hier word ook water en klei gekombineer net soos in Gen. 2.  Dit is moontlik dat die skrywer ons daarmee ook wil help om iets te verstaan van wie Jesus werklik is... 

Die man moes homself gaan was, wat nogal herinner aan die doop.  Ons doop is die teken dat ons ook mense van die lig is (ons is nie self die lig nie, maar ons is nie langer blind nie - ons erken Jesus as die ware lig).

Wie sou jy sê is die blinde(s) in hierdie verhaal?  Wie kan sien in hierdie verhaal?

Saamvat

In beide Joh. 8 en 9 lees ons dat Jesus “lig vir die wêreld” is.  Op watter manier is Jesus ‘lig vir die wêreld’ in elke verhaal?  Wat sou jy sê beteken dit vir jou dat Jesus ‘lig’ is.

Tuesday, 5 February 2013

Brood wat lewe gee


Verlede week:

Ons het verlede week gekyk na Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4).  Dit was opvallend dat Jesus sommer net daar waar Hy was, die Goeie Nuus gedeel het.  Dit was nie nodig dat Hy eers moes beplan of reëlings tref nie.  God se tyd is NOU.  God wil ons gebruik waar ookal ons mag wees.  God wil ons enige tyd (en ten alle tye) gebruik.  Ons hoef ook nie hieroor bekommerd te wees nie, want maak nie saak waar ons gaan nie, God is reeds daar aan die werk.  God gebruik ook enige iemand, ons het nie spesiale vaardighede nodig voordat God ons kan gebruik nie.  So gebruik Hy die Samaritaanse vrou – sy gaan vertel bloot wat sy gesien en beleef het en baie mense ontmoet sodoende die Here.

Skriflesing


Die brood uit die hemel

22 Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23 kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus.  25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26 Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.  27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28 Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29 En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30 Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32 Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34 Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
35 Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.  36 Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37 “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.  38 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.  39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.  40 Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Lees die gedeelte 3 keer deur.  Neem nou tyd vir stilgebed.  Dink gewoon aan wat jy gelees het.  Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan?  Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord.  Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê.  (Kyk of jy die keer 4min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.  Stel sommer jou wekker op jou selfoon,  4min in stilte voel lank).

Hierdie week:

Die hele Joh. 6 gaan oor die tema van brood.  Ons lees eers oor die massas wat na Jesus luister en op ‘n stadium honger raak.  ‘n Klein seuntjie bring vyf garsbrode en twee vissies om die mense te voer.  Nadat Jesus die brood breek en God daarvoor dank, voer Hy meer as vyf duisend mense met die brood en vis.  Waaraan laat die breek van die brood jou dink?  Wat is die betekenis daarvan?

Lees weer vers 26.  Dink jy Jesus verwys na letterlike of figuurlike brood?

Die mense vra in vers 28 aan Jesus wat hulle moet doen om hierdie voedsel te kry?  Dis sekerlik ‘n goeie vraag, ‘n mens moet mos jou brood verdien.  Lees weer vers 29. 

Maak Jesus se antwoord hier sin?  Beveel Hy hulle om iets te doen?  ‘Glo’ ‘n mens eers en dan ‘doen’ jy?  Of kom ‘doen’ eerste en dan geloof?  Dink jy dit maak sin om te onderskei tussen ‘glo’ en ‘doen’?

Die mense maak dit in vers 30-31 duidelik dat hulle verwag van Jesus om ook iets te ‘doen’.  Hulle soek ‘n wonderwerk, soos wat Moses destyds in die woestyn gedoen het toe die Israeliete met manna gevoer is.  Jesus se reaksie op hierdie versoek (vers 32-33 en 35) is treffend.  Hy korrigeer hulle in drie opsigte:  Hy sê dat dit God is wat die manna gee, nie Moses nie.  Hy sê ook dat die Skrifgedeelte wat hulle aanhaal nie na manna verwys nie maar na die ‘ware brood’.  Dan is die brood ook nie iets wat in die verlede gegee is nie, God gee dit tans (nogsteeds).
Waaraan dink die mense in hierdie verse?  Waarna verwys Jesus eintlik?  Waaroor verskil Jesus en die mense van mekaar?


Johannes is lief vir beelde wat met eet en drink verband hou.  In Joh. 2 is Jesus beskryf in terme van wyn (feestelikheid).  Sonder brood sou geen vorm van stedelike lewe moontlik wees nie.  In ‘n samelewing waar mense gemiddeld die helfde (en selfs minder) van die kalorieë ingeneem het wat ons vandag inneem en daarby heeldag fisies aktief was, het mense baie goed verstaan hoe noodsaaklik kos was.  Mense was veral afhanklik van brood om van dag tot dag energie te hê om van te leef.  Ander vrugte en kossoorte was skaars en seisoenaal (daar was nie yskaste om dit in te bêre nie).  Brood was altyd beskikbaar en het die basis van elke ete gevorm (meer dikwels was brood die hele ete).  Soos wat wyn nodig was vir feestelikheid, was brood nodig vir jou daaglikse oorlewing (net soos wat die Israeliete destyds in die woestyn van manna afhanklik was vir hulle oorlewing).  Dit is dus ‘n baie eenvoudige beeld – sonder Jesus is lewe nie moontlik nie.  Ons dag tot dag bestaan is van Hom afhanklik.
Lees Psalm 78:18-32.  Hoe help die Psalm jou om die vermeerdering van die brood asook Jesus se uitspraak in vers 35 te verstaan?
Lees weer die teks deur: Hoe reageer die mense op Jesus se wonderdade?  Hoe reageer hulle op Jesus self?  Hoekom dink jy reageer hulle so?

 

Saamvat

Kan jy onthou wat Jesus in Joh. 4 (verlede week se gedeelte) gesê het toe sy dissipels by Hom daarop aandring dat Hy iets moet eet?  Hoe sluit dit aan by Joh. 6? (Lees gerus weer die gedeeltes deur om jou te help)


Monday, 28 January 2013

Die Samaritane glo in Jesus



In die eerste verse van Johannes 4 lees ons dat Jesus se dissipels ook begin het om mense te doop en te leer.  Hulle het begin eienaarskap neem om Jesus in sy bediening te help.  Dit is natuurlik ‘n goeie ding.  Jesus se werk is aansteeklik en mense begin daaraan deelneem.  Die Joodse godsdienstige leiers het egter nie gehou van die aftrek wat Jesus gekry het nie en wou die groeiende beweging stuit.

Jesus se bediening en die werk van die Here was in gedrang.  Die godsdienstige leiers wou hom doodmaak en  Jesus en sy dissipels moes noodgedwonge vlug.  Hulle gaan toe terug Galilea toe, daar waar Jesus se bediening begin het en waar mense meer ontvanklik was vir Sy boodskap. 
Dan staan daar hy “MOES” deur Samaria gaan.  Ons besef dat dit nie werklik, prakties gesproke so is nie.  Samaria was eintlik ‘n bietjie van ‘n ompad.  Miskien was dit ‘n veiliger pad met die dat hulle eintlik besig is om te vlug.  Op die oog af is hulle deur omstandighede geforseer om so te reis.  Samaria lyk dan na ‘n plek wat net daar is om deur te vlug...  Dis nie die doelwit van Jesus se bediening nie.  Jesus gaan die Jode daar in Galilea bedien en dan gaan sy gevolg groei ens.  Dis waarskynlik hoe die dissipels dit sou sien.

Oppad deur Samaria, stop hulle by ‘n dorpie.  12uur die middag, oor die hitte van die dag.  Jesus is doodmoeg en Hy moet eers ‘n bietjie rus.  Hy gaan sit toe by ‘n put omdat Hy moeg was en ontmoet daar ‘n Samaritaanse vrou.  Hy vra toe vir haar water, want Hy was dors.  En daar, deur ‘n spontane gesprek, gebeur die werk van God.  Hierdie verlore vrou word gevind!  God het hierdie slegte situasie en omstandighede en Jesus se moegheid gebruik om Sy oes in te samel...


Hoor weer mooi, Hy het juis Jesus se menslikheid en moegheid hier gebruik, op ‘n plek en met iemand wat ‘n mens nie sou verwag nie.  Wat die dissipels beslis nie sou verwag nie.
Die dissipels se reaksie van verbasing en ‘n gebrek aan belangstelling onderskryf dit.  Hulle vra nie eers wie die vrou is of waarom Jesus met haar praat nie.


Lees nou Johannes 4:27-42

Die Samaritane glo in Jesus
27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.
28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”  30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.
31 Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” 34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.
 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie.  Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”
39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40 Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41 Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42 en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Lees die gedeelte 3 keer deur. Neem nou tyd vir stilgebed. Dink gewoon aan wat jy gelees het. Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan? Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord. Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê. (Kyk of jy so 2min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.)

Wat bedoel Jesus as Hy sê hy het voedsel om te eet waarvan die dissipels nie weet nie?

Hoekom verstaan die dissipels Hom verkeerd, wat het hulle gemis?

Die Israeliete was oorwegend 'n boeregemeenskap.  Daarom het hulle 'n gesegde gehad wat boere goed verstaan.  Hulle sou sê: "Nog vier maande, dan is die oes daar." 

Hulle het geweet dat wanneer 'n mens klaar gesaai het, jy niks anders kan doen as om te wag nie.  Dit sou nie help om kriewelrig en ongeduldig te raak nie, 'n mens kon net wag en bid vir reën.   Daarom het hulle wanneer iemand haastig of ongeduldig was of vroegtydig aan die werk wou spring gesê: "Nog vier maande dan is die oes daar."  Dit was 'n manier om te sê:  "Jy kan nou niks doen nie, wag..."

Die dissipels het die pad deur Samaria gesien as so 'n 'vier maande' tydperk van rus. Die werk van die Here is in Jerusalem en Samaria, daar by die Jode, die mense vir wie Jesus gekom het...  Jesus wat by die put gaan sit om krag terug te kry bevestig dit.  Hy het nie met 'n megafoon dorp toe gegaan om die Samaritane te bearbei nie.  Hy was moeg en dors en wou rus daar...

Waarvoor maak Jesus sy dissipels se oë oop deur te sê: "Kyk na die lande, hulle is ryp vir die oes!"  ?

Dink oor jou dag wat verby is...  Was daar tye wat jy moeg was en moes rus?  Het jy iewers by 'n 'put' gaan sit?  Het jy iemand daar ontmoet?  Miskien het jy verby die persoon gekyk.  Dalk was Jesus ook daar en Hy het vir jou water gevra, maar jy het nie na Hom opgelet of besef dit was Hy nie.  Jou gedagtes was by al die belangrike take wat jy nog moes gaan doen.  Jou fokus was op die oes wat oor vier maande moet inkom. 

Probeer om hierdie week meer oplettend te wees.  Wanneer jy op plekke is wat vir jou onbelangrik lyk, soos die lang tou by die bank of in Pick & Pay.  Die rit skooltoe om jou kind af te laai...  (Miskien het hy/sy 'n behoefte?)  Daar is nog vele voorbeelde om te noem.  Probeer om op te let wat gebeur daar waar jy nie gewoonlik kyk nie.  Kyk watter oomblikke en geleenthede gee die Here selfs deur jou moegheid en swakheid...

Wat beteken dit vir jou om te weet dat jy nie gesaai het nie en dat die oes eintlik die Here se werk is?  (Dink ook prakties aan die hand van hierdie teks.  Wat is die implikasies, waar en hoe werk die Here en op watter manier kan ons aan Sy werk deelneem?)