Verlede week:
Ons het verlede Sondag gesels oor die brood wat lewe gee –
dit is Jesus self. Die trefkrag van die
beeld lê juis daarin opgesluit dat baie mense hulle net beywer vir die brood
wat NOU in hulle behoeftes vervul. Hulle
leef asof die realiteit van vandag se behoeftes al is wat bestaan. Jesus gebruik daardie selfde gevoel van
hongerpyne om te praat oor ‘n ander realiteit.
Dit waarvoor ons honger is, waarna ons smag, is nie maar net fisiese
brood nie. Nog meer as wat dit nodig is
dat ons sorg vir ons fisiese liggaam deur dit te voed, is dit nodig dat ons eet
van die Brood wat lewe gee. Ons bestaan
is afhanklik daarvan dat ons vir Jesus self ken en in Hom glo.
Skriflesing:
Lig vir die wêreld
12 Op
'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.
Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe
gee.”
13 Die
Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie
geldig nie.”
14 Daarop
sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat
Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie
waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. 15 Julle oordeel oor
iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16 En as
Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar
Ek en die Vader wat My gestuur het. 17 In julle wet staan daar
geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. 18 Nou ja,
oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.”
Lees die gedeelte 3 keer deur. Neem nou tyd vir
stilgebed. Dink gewoon aan wat jy gelees het. Is daar ‘n spesifieke
frase of woord wat vir jou uitstaan? Fokus jou gedagtes net op die enkele
frase of woord. Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou
wil sê. (Kyk of jy die keer 4min in stilte kan deurbring terwyl jy dink
oor wat jy gelees het. Stel sommer jou wekker op jou selfoon, 4min
in stilte voel lank).
Hierdie week:
Die beeld van ‘lig vir die wêreld’ word gebruik om twee
verhale te verklaar. Die verhale
verklaar eintlik ook vir ons die beeld.
Die eerste verhaal lees ons in Joh. 7:53-8:11. Dit is die verhaal van die vrou wat op
owerspel betrap is.
Lees Joh. 7:53-8:11
deur. Die situasie waarin die vrou
haarself bevind is nogal onregverdig. In
watter opsigte sou jy sê is dit onregverdig teenoor die vrou?
Lees Joh. 18:31 om te
sien hoe die Romeinse wet van toepassing was in hierdie situasie. Lees dan ook Lev. 20:10. Hoe sou jy sê is die Skrifgeleerdes en
Fariseërs onregverdig teenoor Jesus?
Sou jy sê dat die
Skrifgeleerdes en Fariseërs met goeie bedoelings die wet wou toepas? Wat was eintlik op hulle agenda?
Jesus tree eintlik baie vreemd op in hierdie situasie. Dit is seker verstaanbaar. Die situasie is so bietjie van ‘n ‘catch
22’. Maak nie saak wat Jesus doen nie,
Hy het moeilikheid (óf by die Jode, óf by die Romeine).
Mens se indruk is dat Jesus die hele kwessie van die wet (Romeins of
Joods) vermy en op ‘n dieper vlak van menswees die hele situasie aanspreek. Moontlik het Hy in die sand iets geskryf wat
aan die mense verduidelik het hoekom hulle nie die vrou kan stenig nie.
Wat dink jy het Hy in
die sand geskryf?
Hoe ‘oordeel’ Jesus oor
die vrou se situasie? Wat is die
resultaat van Sy oordeel?
Die tweede verhaal lees ons in Joh. 9. Die verhaal is nogal lank, so ons gaan ter
wille van tyd hierdie week net fokus op die eerste gedeelte.
Lees Joh. 9:1-12 deur. Wie dink jy is te blameer vir die man se
blindheid?
Wat bedoel Jesus as Hy
sê “die nag kom”? (Wat sê Joh. 1:5
hieroor?)
Jesus se genesing van die blinde man herinner nogal aan die
skeppingsverhaal in Gen.2:6-8. Hier word
ook water en klei gekombineer net soos in Gen. 2. Dit is moontlik dat die skrywer ons daarmee
ook wil help om iets te verstaan van wie Jesus werklik is...
Die man moes homself gaan was, wat nogal herinner aan die
doop. Ons doop is die teken dat ons ook
mense van die lig is (ons is nie self die lig nie, maar ons is nie langer blind
nie - ons erken Jesus as die ware lig).
Wie sou jy sê is die
blinde(s) in hierdie verhaal? Wie kan
sien in hierdie verhaal?
Saamvat
In beide Joh. 8 en 9
lees ons dat Jesus “lig vir die wêreld” is.
Op watter manier is Jesus ‘lig vir die wêreld’ in elke verhaal? Wat sou jy sê beteken dit vir jou dat Jesus
‘lig’ is.
No comments:
Post a Comment