Lees eers Psalm 23 rustig deur en bid dit saam in
jou eie woorde.
Herders
in die antieke midde-ooste (Bybelse tyd en wêreld) moes harde omstandighede
trotseer om na die skape om te sien. ‘n
Herder het die verantwoordelikheid gehad om vir die skape te sorg en seker te
maak dat hulle goeie wyding kry. Dit was
egter ‘n veeleisende taak, omdat die wêreld so onherbergsaam was. Daar was baie gevare soos roofdiere, diewe en
droogtes wat die taak moeilik gemaak het.
Herders was bekend daarvoor dat hulle baie moes opoffer ter wille van
die skape, hulle moes self die veld en al die gevare daarin aanvat om hulle
skape veilig te hou.
Aan die
een kant het ‘n herder dus seggenskap en gesag oor die skape gehad. Die skape het sy stem geken en hom gevolg en
na hom geluister. Hulle was gehoorsaam
aan die herder. Aan die ander kant moes
die herder eintlik sy lewe aan die skape toewy en baie opoffer ter wille van
hulle veiligheid. Die herder het self
ook ‘n verantwoordelikheid teenoor gehad.
Hierdie
prent beeld ‘n herder van die Bybelse tyd uit.
Wat sê dit oor die herder?
Daar was
‘n tyd in Israel se geskiedenis toe hulle leiers (Konings en priesters) nie
meer regeer het volgens God se wil nie.
Hulle het al die voordele van leierskap geniet, soos om gesag te hê en
om ryk te word ensovoorts, maar hulle het nie werklik vir hulle mense gesorg
nie. Hulle het toegelaat dat die mense
mekaar uitbuit en dat hulle afgode begin dien en steel en moor en maak soos
hulle wil. Trouens, die konings het self
hulle mense bedrieg deur korrupsie en deur nie te sorg vir die wat swaarkry
nie. Hulle het nie gesorg dat reg geskied
sodat die mense veilig kon wees nie.
Daarom
het die profeet Esegiël die volgende boodskap gebring:
(Let op
na hoe hy die metafoor van ‘n herder inspan om sy punt deur te voer).
Lees Esegiël
34 : 1-16
Nadat
Jesus die blinde man in hoofstuk 9 genees het, het die Fariseërs hom daaroor
probeer aanvat. Hulle het hom onder
andere aangekla oor hy dit op die Sabbat gedoen het. Die Fariseërs was tot ‘n groot mate soos die
herders vir die Israeliete. Hulle was
die godsdienstige leiers en het ook seggenskap gehad oor hoe die mense die Wet
moes uitvoer. Daarom was hulle baie
vinnig om iemand wat op die Sabbat werk aan te spreek. Hulle het ook die offers en feeste by die
Tempel beheer. (Asook die geld wat
daarmee saamgaan).
Kyk wat
sê Jesus vir die Fariseërs:
Johannes 10 : 1-21
Die goeie herder
1 “Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die
skaapkraal ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n
rower. 2 Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se
herder; 3 vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die
herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4 Wanneer
hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom,
omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar
van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
6 Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat,
maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
7 Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle:
Ek is die ingang vir die skape. 8 Almal wat voor My gekom het, is
diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9 Ek
is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit
gaan en weiding kry.10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het
gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy
lewe af vir die skape. 12 'n Huurling is geen herder nie, en dit is
nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg,
en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13 Hy is 'n
huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
14 “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my
skape ken My,15 net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê
my lewe af vir die skape. 16 Ek het nog ander skape, wat nie van
hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en
hulle sal een kudde wees met een herder.
17 “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit
weer op te neem. 18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit
uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit
weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
19 Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor
hierdie woorde. 20 Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel
besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?”
21 Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van 'n
besetene nie. 'n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”
Wanneer Jesus sê Hy is die “ingang vir die skape”,
beteken dit ook dat Hy die Herder is. Hy
is beide, want soos die prent vantevore gewys het, het ‘n Herder sy eie liggaam
gebruik om die hek van die kraal te vorm.
Wat het Jesus se ‘herderskap’ met Sy kruisiging en opstanding te doen?
Die gedeelte dui op ‘n spesiale wedersydse verhouding
tussen die Herder en Sy kudde. Wat word
daaroor gesê en wat dink jy vertel dit oor ons verhouding met Jesus?
Volgens Jesus lyk daardie verhouding soos dié tussen
Jesus en Sy Vader. Jesus doen wat die
Vader van Hom verlang en luister na Sy stem.
Die Vader het Jesus lief en gee aan Hom nuwe lewe.
Die ‘ander’ kudde waarvan Jesus praat was die nie-Jode
wat later deur Sy naam tot bekering sou kom.
Die woord wat aan die einde van vers 16 vir “kudde” gebruik word verwys
egter eerder na die kraal self (en die inhoud daarvan). ‘n Kudde word veilig gehou in die kraal.
Wie kan almal in hierdie kraal inkom? Hoe kom ‘n mens in hierdie kraal?
No comments:
Post a Comment