Verlede week:
Ons
het verlede week gekyk na Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put
(Joh. 4). Dit was opvallend dat Jesus
sommer net daar waar Hy was, die Goeie Nuus gedeel het. Dit was nie nodig dat Hy eers moes beplan of
reëlings tref nie. God se tyd is
NOU. God wil ons gebruik waar ookal ons
mag wees. God wil ons enige tyd (en ten
alle tye) gebruik. Ons hoef ook nie
hieroor bekommerd te wees nie, want maak nie saak waar ons gaan nie, God is
reeds daar aan die werk. God gebruik ook
enige iemand, ons het nie spesiale vaardighede nodig voordat God ons kan
gebruik nie. So gebruik Hy die
Samaritaanse vrou – sy gaan vertel bloot wat sy gesien en beleef het en baie
mense ontmoet sodoende die Here.
Skriflesing
Die brood uit die hemel
22 Die
mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en
geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar
dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23 kom daar toe ander
skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het
nadat die Here daarvoor gedank het. 24 Toe die mense sien dat Jesus nie
daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na
Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant
die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”
26 Jesus
antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die
wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig
geword het. 27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan
nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal
die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe
verleen.”
28 Hulle
vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
29 En
Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom
wat Hy gestuur het.”
30 Hulle
sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u
kan glo? Wat gaan u doen? 31 Ons voorouers het manna in die woestyn
geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om
te eet.”
32 Jesus
het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle
die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die
ware brood uit die hemel gee. 33 Die brood wat God gee, is Hy wat
uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”
34 Hulle
sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
35 Maar
Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit
weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36
Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle
nie in My nie.
37 “Elkeen
wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom,
nooit verwerp nie. 38 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil
te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is
die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie
een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood
sal laat opstaan. 40 Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat
die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste
dag uit die dood laat opstaan.”
Lees die gedeelte 3 keer deur. Neem nou tyd vir stilgebed. Dink gewoon aan wat jy gelees het. Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir
jou uitstaan? Fokus jou gedagtes net op
die enkele frase of woord. Luister in
die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê. (Kyk of jy die keer 4min in stilte kan
deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.
Stel sommer jou wekker op jou selfoon,
4min in stilte voel lank).
Hierdie week:
Die hele Joh. 6 gaan oor die
tema van brood. Ons lees eers oor die
massas wat na Jesus luister en op ‘n stadium honger raak. ‘n Klein seuntjie bring vyf garsbrode en twee
vissies om die mense te voer. Nadat
Jesus die brood breek en God daarvoor dank, voer Hy meer as vyf duisend mense
met die brood en vis. Waaraan laat die breek van die brood jou
dink? Wat is die betekenis daarvan?
Lees
weer vers 26. Dink jy Jesus verwys na
letterlike of figuurlike brood?
Die mense vra in vers 28 aan
Jesus wat hulle moet doen om hierdie voedsel te kry? Dis sekerlik ‘n goeie vraag, ‘n mens moet mos
jou brood verdien. Lees weer vers
29.
Maak
Jesus se antwoord hier sin? Beveel Hy
hulle om iets te doen? ‘Glo’ ‘n mens
eers en dan ‘doen’ jy? Of kom ‘doen’
eerste en dan geloof? Dink jy dit maak
sin om te onderskei tussen ‘glo’ en ‘doen’?
Die mense maak dit in vers
30-31 duidelik dat hulle verwag van Jesus om ook iets te ‘doen’. Hulle soek ‘n wonderwerk, soos wat Moses
destyds in die woestyn gedoen het toe die Israeliete met manna gevoer is. Jesus se reaksie op hierdie versoek (vers
32-33 en 35) is treffend. Hy korrigeer
hulle in drie opsigte: Hy sê dat dit God is wat die manna gee,
nie Moses nie. Hy sê ook dat die
Skrifgedeelte wat hulle aanhaal nie na manna verwys nie maar na die ‘ware
brood’. Dan is die brood ook nie iets
wat in die verlede gegee is nie, God gee dit tans (nogsteeds).
Waaraan
dink die mense in hierdie verse? Waarna verwys Jesus eintlik? Waaroor verskil Jesus en die mense van mekaar?
Johannes is lief vir beelde
wat met eet en drink verband hou. In
Joh. 2 is Jesus beskryf in terme van wyn (feestelikheid). Sonder brood sou geen vorm van stedelike lewe
moontlik wees nie. In ‘n samelewing waar
mense gemiddeld die helfde (en selfs minder) van die kalorieë ingeneem het wat
ons vandag inneem en daarby heeldag fisies aktief was, het mense baie goed
verstaan hoe noodsaaklik kos was. Mense
was veral afhanklik van brood om van dag tot dag energie te hê om van te
leef. Ander vrugte en kossoorte was
skaars en seisoenaal (daar was nie yskaste om dit in te bêre nie). Brood was altyd
beskikbaar en het die basis van elke ete gevorm (meer dikwels was brood die
hele ete). Soos wat wyn nodig was vir
feestelikheid, was brood nodig vir jou daaglikse oorlewing (net soos wat die
Israeliete destyds in die woestyn van manna afhanklik was vir hulle
oorlewing). Dit is dus ‘n baie eenvoudige
beeld – sonder Jesus is lewe nie moontlik nie.
Ons dag tot dag bestaan is van Hom afhanklik.
Lees
Psalm 78:18-32. Hoe help die Psalm jou
om die vermeerdering van die brood asook Jesus se uitspraak in vers 35 te
verstaan?
Lees
weer die teks deur: Hoe reageer die mense op Jesus se wonderdade? Hoe reageer hulle op Jesus self? Hoekom dink jy reageer hulle so?
Saamvat
Kan jy onthou wat Jesus in Joh. 4 (verlede week se
gedeelte) gesê het toe sy dissipels by Hom daarop aandring dat Hy iets moet
eet? Hoe sluit dit aan by Joh. 6? (Lees gerus
weer die gedeeltes deur om jou te help)
No comments:
Post a Comment