In die eerste verse van Johannes 4 lees ons dat Jesus se dissipels ook
begin het om mense te doop en te leer.
Hulle het begin eienaarskap neem om Jesus in sy bediening te help. Dit is natuurlik ‘n goeie ding. Jesus se werk is aansteeklik en mense begin
daaraan deelneem. Die Joodse
godsdienstige leiers het egter nie gehou van die aftrek wat Jesus gekry het nie
en wou die groeiende beweging stuit.
Jesus se bediening en die werk van die Here was in gedrang. Die godsdienstige leiers wou hom doodmaak en Jesus en sy dissipels moes noodgedwonge
vlug. Hulle gaan toe terug Galilea toe,
daar waar Jesus se bediening begin het en waar mense meer ontvanklik was vir Sy
boodskap.
Dan staan daar hy “MOES” deur Samaria gaan.
Ons besef dat dit nie werklik, prakties gesproke so is nie. Samaria was eintlik ‘n bietjie van ‘n
ompad. Miskien was dit ‘n veiliger pad
met die dat hulle eintlik besig is om te vlug.
Op die oog af is hulle deur omstandighede geforseer om so te reis. Samaria lyk dan na ‘n plek wat net daar is om
deur te vlug... Dis nie die doelwit van
Jesus se bediening nie. Jesus gaan die
Jode daar in Galilea bedien en dan gaan sy gevolg groei ens. Dis waarskynlik hoe die dissipels dit sou
sien.
Oppad deur Samaria, stop hulle by ‘n dorpie. 12uur die middag, oor die hitte van die
dag. Jesus is doodmoeg en Hy moet eers
‘n bietjie rus. Hy gaan sit toe by ‘n
put omdat Hy moeg was en ontmoet daar ‘n Samaritaanse vrou. Hy vra toe vir haar water, want Hy was dors. En daar, deur ‘n spontane gesprek, gebeur die
werk van God. Hierdie verlore vrou word
gevind! God het hierdie slegte situasie
en omstandighede en Jesus se moegheid gebruik om Sy oes in te samel...
Hoor weer mooi, Hy het juis Jesus se menslikheid en moegheid hier gebruik, op ‘n plek en met iemand wat ‘n mens nie sou verwag nie. Wat die dissipels beslis nie sou verwag nie.
Die dissipels se reaksie van verbasing en ‘n gebrek aan belangstelling
onderskryf dit. Hulle vra nie eers wie
die vrou is of waarom Jesus met haar praat nie.
Lees nou Johannes 4:27-42
Die Samaritane glo in Jesus
27Net toe het sy dissipels teruggekom en
hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra:
“Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.
28Die vrou het toe haar waterkruik net
daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is 'n man
wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus
nie?” 30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin
kom.
31 Intussen het sy dissipels by Hom
aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om
te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die
dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”
34Maar Jesus het vir
hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om
sy werk te voltooi.
35Sê
julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle:
Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy
die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam
bly. 37Hier is die
gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan
julle nie gearbei het nie. Ander het
gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”
39Baie van die Samaritane in daardie dorp
het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig
het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40 Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom
daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41 Nog baie meer van hulle
het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42 en hulle het vir die vrou
gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self
na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”
Lees die gedeelte 3 keer deur. Neem nou tyd
vir stilgebed. Dink gewoon aan wat jy gelees het. Is daar ‘n spesifieke frase
of woord wat vir jou uitstaan? Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of
woord. Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê. (Kyk of
jy so 2min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het.)
Wat
bedoel Jesus as Hy sê hy het voedsel om te eet waarvan die dissipels nie weet
nie?
Hoekom verstaan
die dissipels Hom verkeerd, wat het hulle gemis?
Die Israeliete was oorwegend 'n boeregemeenskap. Daarom het hulle 'n gesegde gehad wat boere
goed verstaan. Hulle sou sê: "Nog
vier maande, dan is die oes daar."
Hulle het geweet dat wanneer 'n mens klaar gesaai het, jy
niks anders kan doen as om te wag nie.
Dit sou nie help om kriewelrig en ongeduldig te raak nie, 'n mens kon
net wag en bid vir reën. Daarom het
hulle wanneer iemand haastig of ongeduldig was of vroegtydig aan die werk wou
spring gesê: "Nog vier maande dan is die oes daar." Dit was 'n manier om te sê: "Jy kan nou niks doen nie, wag..."
Die dissipels het die pad deur Samaria gesien as so 'n
'vier maande' tydperk van rus. Die werk van die Here is in Jerusalem en
Samaria, daar by die Jode, die mense vir wie Jesus gekom het... Jesus wat by die put gaan sit om krag terug
te kry bevestig dit. Hy het nie met 'n
megafoon dorp toe gegaan om die Samaritane te bearbei nie. Hy was moeg en dors en wou rus daar...
Waarvoor maak
Jesus sy dissipels se oë oop deur te sê: "Kyk na die lande, hulle is ryp
vir die oes!" ?
Dink oor jou dag
wat verby is... Was daar tye wat jy moeg
was en moes rus? Het jy iewers by 'n
'put' gaan sit? Het jy iemand daar
ontmoet? Miskien het jy verby die
persoon gekyk. Dalk was Jesus ook daar
en Hy het vir jou water gevra, maar jy het nie na Hom opgelet of besef dit was
Hy nie. Jou gedagtes was by al die
belangrike take wat jy nog moes gaan doen.
Jou fokus was op die oes wat oor vier maande moet inkom.
Probeer om
hierdie week meer oplettend te wees.
Wanneer jy op plekke is wat vir jou onbelangrik lyk, soos die lang tou
by die bank of in Pick & Pay. Die
rit skooltoe om jou kind af te laai...
(Miskien het hy/sy 'n behoefte?)
Daar is nog vele voorbeelde om te noem.
Probeer om op te let wat gebeur daar waar jy nie gewoonlik kyk nie. Kyk watter oomblikke en geleenthede gee die
Here selfs deur jou moegheid en swakheid...
Wat beteken dit vir jou om te weet dat jy nie
gesaai het nie en dat die oes eintlik die Here se werk is? (Dink ook prakties aan die hand van hierdie
teks. Wat is die implikasies, waar en
hoe werk die Here en op watter manier kan ons aan Sy werk deelneem?)
No comments:
Post a Comment