Monday, 21 January 2013

Die reiniging van die tempel


Johannes 2:12-25


12
Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.
13
Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.
14
Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit.
15
Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.
16
Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.”
17
Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
18
Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
19
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
20
Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”
21
Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel.
22
Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
23
Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.
24
Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is.
25
Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.


Verlede week:

Ons het verlede week uit Joh. 2:1-11 gelees.  Die verhaal begin met die woorde: “Op die derde dag...”.  So gee die Evangelie skrywer vir ons klaar ‘n idee van waaroor die verhaal eintlik gaan.  Dit gaan oor Jesus se kruisiging en opstanding.  Die kruisiging en opstanding word vergelyk met Jesus wat die Jode se reinigingskanne vol water maak en in wyn verander.  Die seremoniemeester is so beïndruk met die wyn dat hy eintlik sy spyt uitspreek oor hy nog kan onthou hoe die ou wyn geproe het.  Dit sou vir hom beter wees om eers dronk te word voor hy daardie slegte ou wyn moes drink, sodat hy dit nie kon proe nie.

In kort, Jesus bring ‘n nuwe manier van leef.  As ons Jesus eers ken, is niks wat voorheen vir ons waarde gehad het, meer dieselfde nie.  Alles steek af teenoor die lewe wat ons in Jesus kry.


Hierdie week:

Lees die gedeelte 3 keer deur.  Neem nou tyd vir stilgebed.  Dink gewoon aan wat jy gelees het.  Is daar ‘n spesifieke frase of woord wat vir jou uitstaan?  Fokus jou gedagtes net op die enkele frase of woord.  Luister in die stilte na wat die Here hierdeur vir jou wil sê.  (Kyk of jy so 2min in stilte kan deurbring terwyl jy dink oor wat jy gelees het)

Die verhaal gaan verder en vertel vir ons van Jesus wat saam met sy gesin ‘n kort besoek aan Kapernaum maak voor hulle verder reis.  Die roete wat hulle reis maak nie rerig sin nie.  Die indruk is dat Jesus sy tuisdorp doelbewus vermy en dat sy fokus eerder is op dit wat Hy in Jerusalem moet gaan doen.  Die normale roete reguit na Jerusalem sou Jesus juis oor Nasareth neem. 

Om ons te help om hierdie opmerking te verstaan, kan ons kyk na Psalm 69:8.  Later in die gedeelte is ook ‘n direkte verwysing na Psalm 69:9. 

Lees rustig Psalm 69 deur.  Hoeveel van wat jy lees stem ooreen met Jesus se lewe of laat jou daaraan dink?  (Maak ‘n lys van als in die gedeelte wat jou aan Jesus en spesifiek aan ons Skriflesing vir die week laat dink)

Die tempel wat Herodus laat bou het, was ‘n indrukwekkende gebou.  Herodus het die Jode weer op die map gesit.  Hy was goeie vriende met Julius Ceasar en selfs die bekende koningin Cleopatra se verhouding met ‘n voorste Romeinse generaal was nie genoeg om haar teen die mag van Herodus te beskerm nie.  Sy moes groot dele van haar grondgebied aan Herodus afstaan.  Herodus het regoor die antieke wêreld gesag afgedwing en was baie geliefd.  Dis te danke aan hom dat die Olimpiese spele nog voortbestaan het in sy tyd.  Hy is ook die een wat voorgestel het dat die persone wat tweede en derde kom ook pryse moet kry.  Mense van oor die hele wêreld het te danke aan die slim, sportiewe, aantreklike en uitgaande koning Herodus na die tempel toe gestroom.  Hoe wonderlik moes dit nie vir die Jode wees nie.  Die hele wêreld het gekom om van hulle God te leer en aan Hom offers te bring.  Dit word vertel dat die bloed van al die offers wat dag in en dag uit daar gebring is, soos ‘n rivier deur die Hinomdal gestroom het.  Die vrugbaarheid van die grond in die Hinomdal word tot vandag toe toegeskryf aan al die bloed wat daar gevloei het.
Hoekom dink jy sou Jesus hom dan vererg oor die populariteit van die tempel?  (Skryf neer wat jy dink die rede hiervoor kon wees)

Vers 17 in die NAV lees: “Die liefde vir u huis verteer my”.  Die vertaling is egter verkeerd.  Die skrywer van Johannes het doelbewus die oorspronklike woorde van die Psalm verander, sodat daar staan: “Die liefde vir u huis sal my verteer”.  Wat het uiteindelik met Jesus gebeur a.g.v. sy optrede by die tempel?
Lees Spreuke 1:20-33.  Sien jy enige ooreenkomste tussen mense se reaksie op wysheid en hulle reaksie op Jesus?


Saamvat:

Hoe sluit hierdie gedeelte aan by Joh 2:1-11?  (Dink aan die simboliek van die water in die reinigingskanne van die Jode wat vervang word met wyn wat in ‘n ander klas is)

No comments:

Post a Comment