Hierdie gedeelte in
Johannes vind plaas nadat Jesus die dissipels se voete gewas het en voor die
instelling van die nagmaal. Jesus praat
toe daarvan dat een van hulle hom sal verraai.
Hy wys vir Judas uit deur vir hom brood te gee wat in sous gedoop
is. Hy sê toe vir Judas dat wat hy wil
doen, hy gou moes doen en met daardie woorde is Judas uit in die nag... Weg van die lig, van Jesus af...
Hierdie gebeurtenis het die
dissipels deurmekaar gemaak en hulle kon nie verstaan wat nou aangaan nie. Wat Jesus egter daarna aankondig het, was net
nog meer verwarrend en ontstellend.
Lees Johannes 13:31-38
rustig deur.
31 Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou
word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32 En aangesien God deur Hom verheerlik
word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.
33 My kinders, Ek is nog net 'n klein
rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek
nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34 Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle
moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal
weet dat julle dissipels van My is.”
36 Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here,
waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie
nou volg nie, maar later sal jy My volg.”
37 Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom
kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”
38 “Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra
Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”
Wat bedoel Jesus as hy praat van die verheerliking van
die Seun van die mens? In die lig van
die hele Johannes evangelie, waarvan dink jy praat Hy?
(Jesus verheerlik God deur gehoorsaam te wees in die aflê
van Sy lewe. God verheelik Hom deur die
opstanding.)
Hoe dink jy sou die dissipels op daardie stadium Sy
woorde verstaan?
Hoe dink jy moes die dissipels voel toe Hy sê hy verlaat
hulle? (Let op Petrus se reaksie.)
Jesus het baie dieselfde woorde aan die Fariseërs gesê. Tog is daar 'n groot verskil:
JOHANNES 8:21
Verder het
Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in
julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”
Hoe verskil dit met wat hy vir die dissipels sê?
Hoewel Sy dissipels hom nie meer met hulle oë gaan kan
sien nie, sê Jesus nie dat hulle in sonde sal sterf nie, hy los hulle met 'n
gebod...
In die lig van die gebod, sou dit vir hulle moontlik wees
om mekaar lief te hê op daardie manier as hulle nie vir Jesus geken het en Sy
liefde ontvang het nie? (Lees die
volgende verse om jou te help verstaan.)
JOHANNES 13:6-9
6 Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié
vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”
7
En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy
dit verstaan.”
8 Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in
alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was
nie, het jy nie deel aan My nie.”
9
Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande
en my gesig.”
Hoe sluit Petrus se voornemens om sy lewe vir Jesus af te
lê by die voete was insident aan? Kan
Petrus sy lewe vir Jesus aflê? Of het hy
dinge dalk verkeerdom?
Hoe sou Jesus se woorde oor Petrus wat Hom sou verloën
die dissipels laat voel? (Onthou, hulle ken hom as die een wat Jesus die
liefste gehad het...)
In die lig van hierdie
donker gebeure en gesprek, en die dissipels se verwarring en ontsteltenis, sê
Jesus die volgende:
Johannes 14 :
1-14
1 “Julle moet nie ontsteld wees nie.
Glo in God; glo ook in My. 2 In die
huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir
julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3 En as Ek gegaan het en vir julle plek
gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook
kan wees waar Ek is. 4 En julle ken
die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
Soos die kibboetse wat vandag in Israel is,
was die Jode se huise in daardie tyd ook groot.
Seuns het by hulle pa's aangebly en die besigheid of plaas help
bedryf. As hulle trou sou hulle 'n kamer
of wooneenheid aan hulle Vader se huis aanbou en gereedmaak vir hom en sy
vroutjie. Dit was die aanloop tot die
troue, na die verlowing moes die jong man hard werk om plek gereed te maak, en
die meisie moes wag. Sy het nie geweet
waar die bruidegom se vader se huis was nie.
Die bruidegom sou haar kom haal as dit gereed was en hy sou haar soontoe
neem.
As gevolg daarvan het die huise deur die
generasies gegroei tot uitgebreide huise met baie kamers.
In die lig daarvan, op hoe 'n manier stel
Jesus die dissipels gerus met sy woorde?
Bestudeer die volgende gedeelte in die lig
van hierdie beeld van die bruid en die bruidegom. Lees dit biddend deur en doen die weeklikse
oefening om daarmee stil te word.
5 Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons
weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”
6 Jesus het vir hom gesê: “Ek is die
weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My
nie. 7 As julle My ken, sal julle my
Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
8 Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys
vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so
lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan
jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10
Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met
julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My
bly en sy werke doen. 11 Glo in My
omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die
werke self.
12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My
glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit
doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13
Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun
verheerlik kan word. 14 As julle My
iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
(Die laaste gedeelte veroorsaak soms
verwarring oor wonderwerke. Jesus noem
egter nie die wonderwerke nie, maar die dinge wat Hy doen. Hy sê gereeld dat omdat Hy die Vader ken,
doen hy net wat die Vader vir Hom gesê het.
In die lig daarvan was die grootste ding wat hy gedoen het om sy lewe af
te lê en Hom aan die kruis te laat verneder...
Daarna het God Hom verheerlik omdat Hy God verheerlik het. Dit gaan dus nie daaroor dat gelowiges groot
wonders moet doen nie, maar dat hulle ook God se wil sal doen en ken, deur in
'n verhouding met Jesus te leef. Jesus sê
ook dat wat ons ookal in Sy naam vra, sal Hy doen. Dink egter aan Sy verhouding met die
Vader. Wat het Hy in die naam van Sy
Vader gevra? Dinge wat die Vader
verheerlik. Dit gaan nie oor die
vervulling van selfsugtige behoeftes nie.
Die punt is eerder dat ons sekere dinge vra omdat ons Hom ken.)